Sandkastele

Dis altyd so lekker om te sien watter idees die kinders het as ons vir hulle vra om sandkastele te bou wat ‘n storie uit die Bybel uitbeeld. Hulle het soms verskriklike goeie idees en hulle gebruik enigiets wat hulle kan kry op die strand om hulle skepsels beter te laat lyk. So leer die kinders dalk ‘n nuwe storie wat hulle dalk nog nie geken het nie, en hulle sal dit vir altyd kan onthou!

Die aktiwiteit veroorsaak natuurlik ook altyd dat ‘n paar van die spanlede begrawe word in die sand!ImageImageImageImageImageImageImageImageImageImageImageImageImageImageImageImageImageImageImageImageImageImageImageImageImage

Wie hou nie van boeresport nie?

Boeresport is seker een van die grootste tradisies in die Suid-Afrikaanse kultuur – natuurlik moet dit ook ingesluit word in ons program!

Drie-been-hardloop is natuurlik altyd deel van ons boeresport-middag. Dit vat mos maar altyd ‘n rukkie vir die twee spanlede in driebeenresies om te ‘bond’, maar as hulle eers aan die gang kom, gaan dit goed!

Kruiwa stoot is ook altyd deel van hierdie middag.

Dan word daar ‘n appel uit ‘n bak met water gehap en daarna moet die kinders smarties soek in meel sonder om hulle hande te gebruik. Grillerig, maar LEKKER!

IMG_1609IMG_1608IMG_1604 (2)IMG_1586

Ware geluk?

Hoe gaan dit regtig met jou?
Wat maak jy?
Is jy tevrede?
Is jy gelukkig?
Hoekom?

Wat is jou definisie van geluk? Is dit wanneer jy die minimum pyn en die maksimum plesier ervaar? Of is dit wanneer jy jouself vergelyk met ander mense en besef dat jy beter is as hulle? Of is dit dalk wanneer jy baie geld het?

Om ware geluk te kry, moet jy vriendelik wees, ‘n mentor bedank, leer om te vergewe, goeie verhoudings koester, jou liggaam goed versorg, gereeld in die natuur kom, jy moet dit vermy om jouself met ander te vergelyk en jy moet sterk wees in jou geloof.

Psalm 1:1-6 kan jou hiermee help.

Vra jouself altyd: “Waarmee is God besig?” en sien dit raak! Jy sal dan iemand van substansie word. Iemand wat regtig kan sê: “My lewe het betekenis!” Dit is die soort geluk wat jou laat floreer en om te floreer is om te lewe. God is die een wat lewe gee en Hy floreer wanneer Sy skepping floreer!

JY FLOREER EERS REGTIG WANNEER JY LEWE GEE

Geluk is nie iets waarna jy moet streef nie. Geluk is die newe effek van ‘n lewe saam met God!

Mag jy werklik vanjaar gelukkig wees!

[Hierdie post is geïnspireer deur dominee Johan van der Merwe se preek in Kruiskerk, Stellenbosch, op 2 Februarie 2014]

Stilsittende Mafia

Een van die gusteling aktiwiteite op die aandprogram is Games-aand. Ons het elke jaar meer as een keer games-aande, juis omdat dit so lekker is!

In 2013 het ons ‘n paar keer Mafia gespeel, maar dit het nie altyd so lekker gewerk nie…

Mafia bestaan uit ‘n dorpie met sy inwoners, polisiemanne, ‘n dokter, ‘n storieverteller en natuurlik die mafia. Aan die begin van die speletjie besluit die storieverteller wat die scenario is. Hy/sy sê dan vir die dorpie om te gaan slaap en dan besluit hy wie die mafia, polisie en die dokter gaan wees. Daar bly natuurlik ook ‘n paar spelers oor wat net gewone dorpinwoners is. Dan, terwyl die dorpie nog slaap, word die mafia wakker en maak iemand dood en hulle gaan slaap weer. Na dit word die dokter wakker om iemand te red, sonder om te weet wie die mafia doodgemaak het en hy gaan slaap ook weer. Daarna word die polisie wakker en sê wie hulle verdink as mafia. Die storieverteller sê vir die polisie of hulle reg of verkeerd was en dan gaan slaap die polisie ook weer. Dus weet niemand in die speletjie wie die mafia, dokter of polisie is nie, behalwe natuurlik hulleself en die storieverteller.

Wanneer al die bogenoemde dinge klaar gedoen is, word die dorpie wakker en hulle moet dan iemand nomineer as mafia. Aan die einde van al die nominasies en verdedigings, word een van die dorpie se inwoners uitgestem, of hulle nou skuldig was of nie.

Dis ‘n baie goeie speletjie om te speel op vakansiedienste, omdat jy net mense nodig het en dus niks geld kos nie! Die enigste probleem is dat die kinders nie altyd hulle oë toe hou wanneer dit moet toe wees nie, so die mafia se geheime word soms baie vinnig uitgelap 😉

‘n Ander speletjie wat die kinders ook baie geniet is Don’t Move. Daar is een van die kinders wat altyd die speletjie lei omdat hy absoluut uitstekend daarmee is! Al die spelers sit in ‘n kring en wanneer die leier sê “don’t move!” mag niemand beweeg nie. As jy beweeg en hy sien jou, is jy uit. Hy loop dan rond en gaan vertel vir mense grappies, kielie hulle, enigiets om te maak dat die mense beweeg… al breek hy soms ‘n paar reëls…

Al word die reëls van die speletjies baie gereeld gebreek, geniet die kinders en die spanlede hulself en dit is al wat eintlik belangrik is!

Lag-lag poppekas

Louis, Hanri en Zettie in aksie

Poppekas is een van die belangrikste dele van Vakansiedienste. Ons hou elke dag vir die kinders wat onder 10 jaar oud is poppekas. Die grootste werk van die poppekas is om stories uit te dink – gelukkig is daar BAIE stories op die internet wat ons net moet vertaal na Afrikaans.

In 2013 het die 3 spanlede agter die poppekas ‘n paar keer uitgebars van die lag net mooi wanneer die storie moet begin… Dan is daar geen stop aan die gegiggel nie! Die kinders dink natuurlik ons huil, minwetend dat die spanlede skater van die lag! En dit oor absoluut niks! Hulle begin net lag, en na die tyd het hulle geen idee waaroor die gelag gegaan het nie!

Een dag het Louis die leeu vreeslik hard gesnork toe die kinders hom probeer wakker maak het. Dit het vir Hanri die haas aan die lag gesit en natuurlik kon Louis ook nie meer sy lag inhou nie. Daar is geen manier om dan ernstig te word nie! Jy moet maar net hoop en bid dat die gegiggel so gou as moontlik oor is. En as dit oor is, is daar min nodig om te maak dat dit weer begin!

Hier is Louis die leeu, Zettie die zebra, Kallie die kameelperd en Hanri die haas.

Louis die leeu Zettie die zebra Kallie die kameelperdIMG_2124

Olimpiese spele met ‘n paar interessante karakters…

Olimpiese spele is een van die aktiwiteite wat elke jaar iewers op ons middagprogram verskyn. Die spanlede hou veral baie van hierdie een, omdat hulle die kans kry om ‘n bietjie kreatief te raak…

Dis die een dag wat ons nie met ons spanhemde gaan werk met die kinders nie. Met pruike, gesigverf en vreemde klere, ‘ontwerp’ die span almal hulle eie skepsels, wat lei tot baie interessante karakters!

Die afgelope drie jaar was Jack Parow elke keer daar met sy hoed wat verleng word deur karton… Diddle Dee en Diddle Dum was ook al ‘n paar keer daar met unitards wat hopeloos te noupassend is! Die Joker het een keer kom kuier en dan was daar ook al verskeie vorme van Superman en Superwoman! ‘n Paar baie entoesiastiese sportondersteuners en hartseer begrafnisbywoners het ook al ‘n draai kom maak… Nog karakters is rooikappie, ‘n nerd, ‘n versigtige swemmer en ‘n rugbyspeler wat gereeld op die bench is.

Die sportsoorte varieer van spiesgooi met strootjies tot diskusgooi met papierborde. Wanneer al die speletjies klaar is het ons altyd ‘n ‘Gladiators Gauntlet.’ Die span staan in ‘n ry langs mekaar in ‘n afgemerkde blok, gepantser met matrasse, en dan moet die kinders tussen ons deur hardloop sonder om gevang te word deur ‘n spanlid – die kinders is MAL daaroor!

Hier is foto’s van die geleentheid in verskillende jare

“Waas die kaite?!”

‘n Paar jaar terug het iemand vir die span kites gebring om mee te speel wanneer ons met die kinders werk. Dit was eers in 2013 wat ons die kites uit hulle plastiekomhulsels uitgehaal het.

Die kinders en die spanlede was verskriklik opgewonde oor hierdie nuwe speelding, want baie van hulle en ons het nog nooit met ‘n kite gespeel nie!

Die eerste woorde wat ons elke oggend in Green Haven gehoor het, was “waas die kaite??!!!”

IMG_1053 (2) IMG_0847

Nakkie, die nar, help die kinders om hulle ‘kaite’ in die lug te kry

 

Roomyse vir 105 kinders

In 2012 het ons nog elke dag see toe gestap met die kinders. Een van hierdie dae toe ons oppad was see toe, het die oom van een van die roomyskarretjies by die strand een van die spanlede nader geroep en gesê dat hy bereid is om vir elke kind ‘n roomys te gee teen R2, waar die oorspronklike prys R5 per roomys is.

Dit was natuurlik baie goeie nuus, maar waar sou ons die geld kry om vir al die kinders ‘n roomys te koop? Al is dit R3 goedkoper as normaalweg.

So 2 dae later het daar ‘n tannie by die Geel Kasteel ingestap gekom. Sy het elke dag gesien hoe ons met die kinders werk, en wou baie graag vir ons op een of ander manier help. Sy gee toe vir ons R400 om vir die kinders roomyse te koop… Kan dit wees?!

Kort na dit het ons die meeste kinders ooit ontvang by die Geel Kasteel – 105 kinders! Ons het sommer dadelik besluit om vir die kinders te gaan roomys koop.

So het die einaar van ‘n roomyskarretjie, ‘n onbekende tannie en 105 roomyse ‘n glimlag gesit op 105 kinders se gesiggies!

Die geveg na malvalekkers

Een van die vele lekker dinge wat altyd op ons middagprogram is, is boeresport. Die kinders se gunsteling aktiwiteit by hierdie middag is altyd die een waar hulle die malvalekkers kan kry…

Ons span ‘n tou tussen twee bome en dan word daar nog korter stukke tou aan die langer tou vasgeknoop. Aan die punte van die korter stukke tou, sit ons malvalekkers. Die kinders moet dan op hulle rûe lê en probeer om ‘n malvalekker te vang (sonder om hulle hande te gebruik) terwyl ‘n spanlid die tou rondruk om dit ‘n bietjie moeiliker te maak…

Julle kan net dink watter groot genot dit verskaf!

Ons hoor…

“Waas my maasmellow?”
“Niiiieeeee!!! Djy vat dan nou my maasmellow!”

Hier lê vier seuns in groot afwagting vir hulle malvalekkersImage

‘n Geseënde klomp jare

Oor die afgelope paar jaar het daar ‘n hele paar veranderinge gebeur by die vakansiedienstespan op Grootbrak. In 2011 het ons vir die eerste keer begin om ook die Green Haven tieners na die aandprogram te laat kom. Dit was moeilik om ‘n groot genoeg invloed te hê op die enkele tieners wat van Pine Creek af gekom het.

In 2012 het ons begin om in die oggende met die poppekas die kinders in twee groepe te verdeel. Ons het gevoel dat van die kinders te oud was vir poppekas en as gevolg van dit was hulle grootste vermaak om uit te vind watter spanlede agter die poppekas sit. Daarom het ons hierdie ouer kinders geskei van die jongeres en daar is geestelike sessies met die oueres gehou. In die geestelike sessies het ons met hulle oor kwessies gepraat wat hulle lewens affekteer. Hulle het gedeel oor hoe hulle hanteer word in hulle skool en ook oor hoe hulle hanteer word deur ouer kinders in die gemeenskap.

2013 was veral ‘n interessante jaar, aangesien ons nie ‘n bussie gehad het nie. Dit het veroorsaak dat ons net 2 keer by die see was met die kinders. Op ‘n manier was dit ‘n bedekde seën, omdat ons nie die bekommernis gehad het van kinders wat moontlik kan verdrink nie.

Ons het in die oggende van 09:30 tot 11:00 by die VG Kerk in Green Haven met die kinders gaan werk en poppekas gehou. Daarna het ons die poppekas weer gaan herhaal in Pine Creek. Ongelukkig het Pine Creek nie ‘n poppekas vir ons gehad nie, so die spanlede in beheer van die poppekas het agter ‘n tafeltennistafel geskuil… Na so 4 dae het ons die optimale manier gevind vir die tafel om te staan sodat niemand se hare uitsteek nie! Deur die poppekas in beide Green Haven en Pine Creek te hou, het ons meer kinders uit Pine Creek gelok as in die vorige paar jare. Een van die dae was daar 20 kinders uit Pine Creek, wat vir ons gevoel het soos ‘n groot prestasie!

Ons gaan volgende jaar weer die poppekas in Green Haven en Pine Creek apart hou. Ons beplan om nog ‘n poppekas te bou, sodat ons nie weer agter ‘n tafeltennistafel hoef te skuil nie. Dit gaan ook maak dat dit nie so maklik is vir die kinders om die ware identiteite van die poppe uit te vind nie!

Ons het die middagprogram net in Green Haven gehou. Ons het nooit kinders in Pine Creek daarvoor gaan optel nie. Daar was wel 5 kinders uit die dorp wat elke dag saam Green Haven toe was en ons het 2 middae afgestaan om te gaan speel met die kinders in Pine Creek. Ons hoop regtig om volgende jaar ‘n bussie te hê, sodat ons weer die kinders in die middae in Pine Creek en Green Haven kan optel, sodat almal kan deelneem aan Olimpiese spele, 50c middag, sportmiddag en al die ander lekker dinge op die middagprogram.

Ons het nog nie ‘n spanpa vir 2014 nie. As jy dalk van iemand weet wat die werk sal kan doen, laat weet ons so gou as moontlik, deur hier kommentaar te lewer of vir ons ‘n e-pos te stuur by grootbrakvakansiedienste@yahoo.com.

Groete,

Martjie Burger – Spanma 2014

Bladsye

Enter your email address to follow this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 5 other followers

%d bloggers like this: